Volhoubare elektrisiteit?

Die Universiteit Stellenbosch se Meting- en Verifikasiespan (SUMV) is (voor, van links) Nelius Bekker, Adiel Jakoef (spanleier), Katrien du Preez en Johan Vermeulen. Agter staan Albert Alchin en Grant Botha. Marius Bekker was afwesig toe die foto geneem is.

Die Stellenbosch Universiteit Meting- en Verifikasiespan (SUMV) is tans by meer as 140 landwye projekte betrokke wat daarop gemik is om elektriese aanvraag en energie te bespaar. Prof Johan Vermeulen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die US en spanhoof vertel wat hul werk behels, waarom dit belangrik is dat die besparingsprojekte onafhanklik geverifieer moet word en ook wat nodig is om die energieprobleme van Suid-Afrika te oorkom.

Wat behels die werk wat SUMV doen?

SUMV is in 2005 gestig en vorm ’n belangrike deel van die grootskaalse poging van Eskom en die staat om elektriese aanvraag en energie te bespaar. Honderde miljoene rande word jaarliks aan talle projekte bestee om energieverbruik in die land te verminder – van energiebesparende gloeilampe wat aan die publiek verskaf word tot hittepompe en sonverwarmingstelsels wat geïnstalleer word.

Al dié besparings moet onafhanklik geverifieer word om te bepaal of daar inderdaad gespaar en genóég gespaar word. Dis wat ons by SUMV doen.

Wat is die hoofprojekte waarop julle fokus?

SUMV hanteer baie industriële projekte – die meeste van ons werk is by myne in die noorde van die land, wat meebring dat ons projekleiers dikwels uitstedig is met terreinbesoeke. Die myne in Suid-Afrika is ons grootste energieverbruikers en omvangryke projekte is van stapel gestuur om energie in die mynbedryf te bespaar. Daar word veral gefokus om die doeltreffendheid van druklugstelsels, verkoelingstelsels en waterverspreiding te verbeter.

Ons is ook betrokke by sonverwarmingstelsels en oudit die impak van alle sonverwarming in die Wes-Kaap. SUMV oudit ook die installasie van hittepompe en selfs energiebesparende stortkoppe in die streek. Een van die meer onlangse verwikkelings waarby ons betrokke is, behels die meting en verifikasie van die prestasie van fotovoltaïese hernubare energiestelsels.

Hoe dra dit by tot die bevordering van ’n volhoubare omgewing?

Suid-Afrika ervaar die laaste tyd kapasiteitsprobleme aan die opwekkingskant van die nasionale netwerk. Wat ons die laaste paar jaar gered het, was die ekonomiese afswaai wat meegebring het dat minder krag in myne gebruik is en die bestuur van die vraag na energie, waarvan energiebesparing deel is.

Die besparingspoging sal nog vir ’n paar jaar moet voortduur om kapasiteitsprobleme in die opwekking en verspreiding van elektriese energie te bestuur. ’n Besparingsteiken van 300 MW per jaar, wat reeds as haalbaar bewys is, beteken dat daar elke twee jaar ’n opwekkingseenheid van die stelsel afgehaal word, wat meebring dat jy relatief gou ’n hele kragstasie afhaal.

Suid-Afrika se poging om vraagkantbestuur en meer doeltreffende verbruik te bevorder, is werklik een van die groot pogings ter wêreld. Tot dusver is dié poging baie suksesvol. Die besparings wat in die afgelope dekade hierdeur bewerkstellig is, verteenwoordig al byna ’n virtuele kragstasie.

As energiebesparings nie onafhanklik geverifieer word nie, het jy nie ’n volhoubare bestedingsmoontlikheid nie, want dis die publiek se geld wat bestee word. Ons moet verseker dat daardie geld reg bestee word en dat die nasionale poging om energie te bespaar suksesvol, deursigtig en dus volhoubaar is.

Lees die volle artikel hier: http://blogs.sun.ac.za/news/af/2013/03/20/sustainability-a-virtual-power-station-in-savings/